Friuli-Venezia Giulia

Wapen en vlag
Wapen van Friuli-Venezia Giulia Vlag van Friuli-Venezia Giulia
Algemene gegewens
Land: Vlag van Italië Italië
Hoofstad: Triëst (Trieste)
Administratiewe verdeling: 4 provinsies
Oppervlakte: 7 924 vk km
Bevolking: 1 216 524 (31 Augustus 2017)
Bevolkingsdigtheid: 150 inwoners per vk km
Webwerf: www.regione.fvg.it
ISO 3166-2: IT-36
President: Massimiliano Fedriga (LN)
Kaart
Die ligging van Friuli-Venezia Giulia in Italië

Friuli-Venezia Giulia, amptelik Regione autonoma Friuli Venezia Giulia, [friˈuːli veˈnɛttsja ˈdʒuːlja], maar dikwels kort Friuli genoem, is 'n outonome administratiewe streek in die noordooste van Italië wat in die weste aan Veneto en in die suide aan die Adriatiese See grens. Die streek se noordelike en oostelike grense vorm tegelykertyd deel van Italië se internasionale grens met respektiewelik Oostenryk en Slowenië. Die streek beslaan 'n oppervlakte van 7 924 km² en huisves 'n bevolking van 1,2 miljoen. Die administratiewe setel is Triëst (Trieste) in die uiterste suidooste van Friuli-Venezia Giulia.

Die eiland Barbana in die strandmeer van Grado staan bekend vir sy Fransiskaneklooster en die bedevaartskerk Santuario di Barbana wat sy oorsprong in die 6de eeu het

Friuli-Venezia Giulia is in 1963 as administratiewe streek gevestig en word onderverdeel in vier provinsies – Gorizia, Pordenone, Trieste en Udine. Dit is die vierde kleinste Italiaanse streek na Aosta, Molise en Ligurië.

Die noorde van Friuli-Venezia Giulia is bergagtig, met 'n koeler klimaat; die suidelike Kalkalpe of Dolomiete is 'n belangrike bestemming vir wintersport-entoesiaste. Hier is ski-oorde soos Monte Zoncolan, Tarvisio, Sella Nevea, Forni di Sopra en Piancavallo geleë. Net suid van die Alpereeks het die laer geleë berggebiede tot 'n eersterangse wyn- en landboustreek ontwikkel.

Die sentrale en suidelike dele van die administratiewe streek word deur vlaktes met 'n warm en vogtige klimaat oorheers, met die uitgestrekte strandmeer van Grado langs sy suidkus. Die Carso-plato tussen Triëste en die Dolomiete was gedurende die Eerste Wêreldoorlog die toneel van hewige veldslagte tussen Italiaanse en Oostenryks-Hongaarse magte, met swaar verliese aan albei kante.

Die streek word dikwels as 'n kruispad van Romaans-Italiaanse, Germaans-Duitse en Slawiese kulturele invloede beskryf. Dit het historiese en kulturele bande met die Oostenryks-Hongaarse Donaumonargie – so was Triëst vanaf 1382 Oostenryks. Die stad was die belangrikste (en enigste) groot seehawe van Oostenryk-Hongarye. Vanaf 1945 het Joego-Slawië, wat intussen ontbind is, aanspraak gemaak op Triëst en sy omgewing waar 'n Sloweenssprekende minderheid aangetref word. Ná 'n kortstondige periode as Vrye Gebied Triëst is die hawestad in 1954 weer by die Italiaanse staatsgebied ingesluit.

Die streek se ekonomie steun sterk op landbou. Die belangrikste gewasse is mielies, suikerbeet, koring en sojabone. Friuli-Venezia Giulia het daarnaas tot 'n belangrike wynboustreek ontwikkel. Die nywerheidsektor word deur klein- en middelgroot ondernemings oorheers wat chemiese produkte, sy vir die tekstielbedryf, papier en meubels vervaardig. Zanussi, 'n bekende vervaardiger van huishoudelike toestelle wat in 1984 deur die Sweedse onderneming Electrolux oorgeneem is, is in Pordenone, 'n nedersetting in Wes-Frioelië, gesetel.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search